Kleinsake is van groot belang volgens Zweli Mkhize.

Beide Matthews Phosa en Zweli Mkhize het die AHI se afsonderlike Kleinsake Indabas in Kaapstad en Durban gebruik om die bevordering van kleinsake te verkondig.

Dis maklik om dit af te maak as politieke opportunisme. Beide het lang verbintenisse met die AHI en beide is ANC presidentskandidate wat weet hoe om ‘n gehoor te gee wat hulle graag wil hoor. Die vraag is dus, sou kleinsake beter af wees met Dr. Zweli Mkhize as President, of nie?

Kleinsake is alle formele besighede met ‘n omset van meer as R1 miljoen per jaar, uitgesluit die paar honderd sogenaamde groot besighede. Daar is na beraming ongeveer 2 miljoen sulke besighede, maar vir verskeie redes is dit baie minder as in ander lande met soortgelyke ekonomieë. Dit is ‘n skokkende feit dat daar geen akkurate of betroubare inligting bestaan ten opsigte van die aantal sulke ondernemings of hulle bydrae tot werkskepping tot die land se ekonomie. Dit spreek vanself dat ons kleinsake op die skerppunt van die interaksie tussen sosiale, ekonomiese en politieke interaksie is. Besoek gerus ‘n plattelandse dorp waar die plaaslike regering disfunksioneel is om te sien hoe die sosiale uitdaging, gebrek aan basiese dienste en vervalle infrastruktuur beteken dat baie kleinsake dit amper onmoontlik vind om in die hoogs gereguleerde formele sektor te kan bestaan.

So, as die AHI is dit logies dat ons belangstel in nasionale en ANC politiek. Faksie gevegte, disfunksionele beleid, korrupsie, misdaad, gebrek aan dienslewering, ens is nie net daaglikse nuus nie, dit bedreig die voortbestaan van daardie deel van ons ekonomie wat werk skep en die broeikas van innovering en aanpasbaarheid moet wees. Elke land wat daarin geslaag het om vinnig te herstel na ‘n resessie het een ding in gemeen gehad, ‘n sterk en gesonde kleinsake sektor.

Natuurlik gaan die sakemanne en vroue wat aan ons sakekamers behoort, nie rêrig inspraak hê in die ANC verkiesingproses nie. Tog stel hulle belang, en sonder om te veralgemeen dink ek dat hulle veral belangstel in die alternatiewe vir die twee sogenaamde voorlopers, naamlik Cyril Rhamaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma. Nog twee, vyf of meer jare sonder ‘n nuwe beleidsbenadering sal selfs die mees optimistiese en robuuste kleinsake persoon se moed totaal breek. Entrepreneurs veral, maar ook kleinsake mense in die algemeen, is nie geneig om eksterne omstandighede te blameer nie. Dis mense wat doen, wat skep en wat op ‘n inklusiewe manier hulle omgewing beter te maak. Dit word beraam dat vir elke so ‘n persoon wat emigreer, 15 poste permanent vernietig word. So alle politici, nie net die ANC se ‘alternatiewe’ kandidate nie, behoort hierdie sektor en sy mense baie deeglik te verstaan.

Dr. Mkhize praat natuurlik oor korrupsie en eenheid in die ANC; hy herbevestig die NOP (NDP) se verwysings na die kritieke rol van kleinsake vir groei en werkskepping. ‘n Mens kan nie help om te voel dis vroeg in die verkiesingsveldtog, so hy toets dalk nog sy boodskap en hy neem die polsslag van so ‘n gehoor of belangegroep, maar dit is dus nog van groter belang dat hy ons as kleinsake mense hoor! Ek vermoed hy luister dalk harder as die twee voorlopers. Hy sê hy is ten gunste van gedeelde oplossings (besigheid en regering belyning), hy staan vir meer deursigtigheid wat tog veral jonger gehore behoort aan te staan en hy verstaan dat leiers mense moet kan inspireer met ‘n aangrypende visie. Hy staan baie sterk op die punt dat beide KZN en die Desember verkiesingsprosesse bo verdenking moet wees en hy sê wat hierdie teiken gehoor wil hoor ten opsigte van skoon regering, korrupsie en aanspreeklikheid.

Die kleinsake mense wil weet oor oorregulering (red tape) en die gepaardgaande hoë koste om formeel en wettige besigheid te doen. Dr. Mkhize is daaraan herinner dat sakevertroue die maklikste en goedkoopste ekonomiese stimulant is. Hy sê hy stem saam met beide, maar beweer ook dit is reeds ANC beleid!

Terug na die miljoen Rand vraag, is die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie en veral die kleinsake sektor beter af met Dr. Mkhize as die volgende ANC President, of nie?

Ek sou sê die gevoel is waarskynlik dat enige verandering ‘n verbetering sal wees, maar dat die interne fokus van hom (en waarskynlik alle ander kandidate) dit moeilik maak om te glo dat die ekonomie of die moeilike omgewing vir kleinsake enigsins makliker gaan word.

Die AHI (wat binnekort gaan herposisioneer as die SBI) en ons sakekamers en hulle lede sal soos die res van die land se 55 miljoen mense maar wag en kyk, maar namens die 9 miljoen werkloses pleit ons vir die vryheid om ons besighede te groei en werk te skep. Ons wil dit met vertroue én met die wete doen dat wie ook al uiteindelik in Desember tot ANC president verkies sal word, sal ‘n betroubare en ondersteunende vennoot wees in die kleinsakesektor se pogings om ons sukkelende ekonomie op ‘n gesonde en volhoubare groeipad te plaas.

Bernard Swanepoel
2017 President AHI
@AHI_SouthAfrica

By: Rapport – https://www.netwerk24.com/Sake/Entrepreneurs/mkhize-luister-na-kleinsake-se-vrese-20170916